Marguerite van Eeden

Mardaleen Coetzer

Marguerite van Eeden

Marguerite van Eeden is ’n kunstenaar wat ten spyte van haar jeugdige ouderdom al baie ondervinding agter die blad het. Aangesien sy vanaf ’n jong ouderdom ’n aktrise is, was sy daartoe in staat om haar rolprentloopbaan met haar eerste grootskermrol in “Vaselinetjie” entoesiasties aan te gryp.

Sedert dan het sy in noemenswaardige produksies, soos “Sara se Geheim”, “Die Byl”, “Waterfront”, “Fynskrif”, “Somerkersfees” en nou “Vergeet My Nie” verskyn. Sy is vasbeslote om die Suid-Afrikaanse film- en televisiemark te bemeester; en wil ook haar merk in die internasionale arena maak.

Mardaleen Coetzer (22)

Mardaleen, ’n treffende BA Kommunikasie-student in Potchefstroom het ’n wil van haar eie, maar is ook sensitief, en beplan, beheer en organiseer fanaties haar lewe en dié van ander rondom haar. Sy vind troos in die digkuns, die literatuur en die fyner dinge in die lewe wat vir haar ’n sin van self gee asook ’n aanvoeling vir kultuur.

Sy wil iets van haarself in die wêreld maak en gevolglik “ontsnap” sy uit die klein dorpie, Potchefstroom. Afgesien van haar minagting vir die alledaagse wat gepaardgaan met ’n “res”-leefstyl, maak sy die beste van hierdie tradisies, soos middernag koshuisserries, sokkies, snobistiese prims, studiesessies en Springbok-shooters by Bourbons. Die engiste mens wat die PUK draaglik maak, is haar hoërskoolliefde, Braam.

Aangesien Mardaleen nie maklik mense vertrou nie, doen sy gewoonlik alles self. Sy is trots daarop dat sy op haar eie alles gereël het vir haar twee-jaar verblyf in Londen.

Mardaleen is die tipe persoon wat tevrede en veilig voel as sy weet dat alles onder beheer is, solank niks buite die gegewe lysies en beplanningsraamwerke is nie – en daar nie enige verrassings is nie.

Wanneer sy in Londen aankom, is dit beter as wat enige reisboek kon beskryf. ’n Op-en-wakker stad met ligte, geleenthede en ambisieuse mense, alles wat Mardaleen se idee van Potch nie is nie – klein, beperk en verstikkend.

Londen bied Mardaleen ’n nuwe soort lewe, en hoewel sy die verandering verwelkom, is dit nie sonder die voorwaardes van haar lysies nie. Sy heg waarde aan lojaliteit en getrouheid en, bo alles, volkome toewyding aan die liefde.