Opsomming

Mardaleen, ’n gekultiveerde student, vasgekeer in die klein dorpie Potchefstroom, smag na die liggies en kultuur van Londen. Na die aaklige verbrokkeling van haar verhouding, pak sy haar tasse en vertrek na haar droomstad saam met haar beste vriendin, Lara. Hulle bly in Huis Konettie, saam met vyf ander Suid-Afrikaners wat in Londen werk.

’n Onverwagse romanse ontstaan tussen Mardaleen en haar Namibies-gebore huismaat, Hugo. Dit voel te goed om waar te wees en die oomblik wanneer dinge te ernstig raak en nie heeltemal verloop soos sy beplan nie, laat sy haar onsekerhede en vrese oorspoel in haar verhouding in.

Sy hardloop weg en gaan huis toe.

Hulle romanse vlam weer op wanneer hulle twee jaar later ontmoet, gevolg deur ’n uitnodiging van Hugo aan Mardaleen om vir hom in Namibië te gaan kuier. Haar naweek in Namibië ontaard in ’n nagmerrie.

Afgesien hiervan, vra Hugo haar om te bly en om ’n nuwe lewe saam te bou, maar sy het ander planne en is hardkoppig.

Mardaleen wil kultuur, die stad en liggies hê – die plaas is nie ’n plek vir ’n meisie soos sy nie.

Die ware storie en die film

Mardaleen was 22 jaar oud en het Kommunikasiekunde studeer toe sy Hugo (toe 24) in Potchefstroom opmerk. Sy en ’n vriendin het by ’n groep pêlle in die studentehuis langs syne gekuier.

Die dag toe sy hom raaksien, was hy kaalbolyf in ’n rugbybroek en kon sy nie anders as om na sy blokkiesmaag te loer nie. Min het sy geweet dié B.Com-student het reeds uitgevra oor die meisie wat so by die ouens oorkant die draad kuier. “Nee, pêl, vergeet daarvan. Sy is nie jou tipe nie,” het een buurman gesê.

Toe hul paaie die volgende jaar in Londen kruis, het hulle ’n skakelhuis saam met ’n groot groep jong Suid-Afrikaners gedeel. Hugo was gewild, en Mardaleen het in ’n stadium gedink hy is ’n “regte pierewaaier”, vertel sy nou.

Maar toe raak hulle verlief.

Mardaleen onthou nog daardie eerste soen: “Ek is oortuig ’n mens kry ’n soenmaat nes jy ’n sielsmaat kry.”

In die vreemde het hulle ’n sprokiesromanse vol avonture – maar ook hartseer en drama – beleef. In dié tyd het hulle besef sy soek ’n lewe in die stad, en die plaas roep hom; daarom het hulle met hul vertrek uit Londen nie eens telefoonnommers uitgeruil nie. Maar natuurlik was dit nie die einde van die storie nie…

Om met mekaar getroud te wees is steeds een groot avontuur, vertel die twee vanuit Namibië. “Ons is beste vriende en deel alles met mekaar,” sê Mardaleen.

“Mardaleen hou baie daarvan om ons storie aan almal te vertel,” sê Hugo gemoedelik. “Ek sal dit ook soms vertel, maar ’n verkorte weergawe. Sy sal dan met die details inspring en sê: ‘Wag, wag, wag, laat ek dit liewer vir julle vertel.’”

Nadat sy dit eendag aan haar graad 11-klas vertel het, het die storie soos ’n veldbrand deur die skoolgange van Gobabis-gimnasium versprei.

“Elke periode daarna het die volgende klas kom vra om die storie te hoor. Ek het besef ons liefdesverhaal het dalk ’n kans in die kompetisie.”

Mardaleen het twee dae voor die sluitingsdatum verwoed begin tik om dit in te stuur. Hugo het daarna gekyk om “dit ’n bietjie te sensor”.

“Dit was ons wilde en rebelse jare,” verduidelik Mardaleen laggend. “Dit voel nog nie werklik dat die fliek oor ons gemaak is nie. Sedert ons die nuus gehoor het, beleef ons slapelose nagte van opwinding,” sê Mardaleen. “Ons wonder watter akteurs die karakters sal speel en hoe die kreatiewe mense dit sal optower.”

Al is dit op ware gebeure gegrond, is die draaiboek, wat deur Tarryn-Tanille Prinsloo geskryf en deur Hanneke Schutte geredigeer is, plek-plek vir die silwerdoek aangepas. Boonop sal ’n rits kleurryke karakters in die fliek verskyn.

Vandag is daar nie meer enige grense tussen Mardaleen en Hugo nie.

In die week, wanneer sy op Gobabis skoolhou, woon sy en hul twee kinders op die dorp. Vrydae durf hulle die plaaspad van 135 kilometer aan om naweke by Hugo te wees.

“Elke keer wanneer ek die plaashekke oopstoot, is ek in ’n ander wêreld en kom ek tuis,” sê sy. “Mense vra dikwels hoe ek op die plaas aangepas het. Maar ek is so dolverlief op my man, hy kon my na Timboektoe neem en ek sou hom gevolg het. Ek wil nêrens anders wees nie.”

En nou sal almal in daardie reis kan deel…