Danie Bester

Vervaardiger

Danie Bester Vervaardiger

Danie Bester het oor die afgelope tien jaar 25 vollengte rolprente vervaardig en word deur baie mense beskou as ’n sleutelpersoon in die hernuwing van die Suid-Afrikaanse rolprentbedryf.

Danie het in 1993 sy matriek aan die Hoër Jongenskool Paarl voltooi. Hy het B.Com Bemarkingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria studeer waartydens hy ook ’n DJ op die studente-radiostasie, TuksFM was. Hy het die jare 1996 en 1997 in Londen, Skotland en Indië deurgebring.

Danie het in 2002 sy honneursgraad (cum laude) aan AFDA Johannesburg in Rolprent Medium verwerf. Danie se finale jaar kortfilm, “Skitterwit” (M-Net New Directions), wat hy geskryf en die regie van behartig het, word vereer as beste rolprent van die jaar en hy word ook aangewys as beste skrywer en regisseur.

Danie was die vervaardiger van “Ouma se Slim Kind”, Suid-Afrika se amptelike inskrywing in die buitelandse filmkategorie van 2008 se Oscar-toekennings.

In 2011 het hy die Mr Video-toekenning gewen vir sy bydrae tot die plaaslike rolprentbedryf en in 2015 vereer Maroela Media hom met ’n toekenning vir sy bydrae tot die Afrikaanse rolprentbedryf.

“Pad na jou Hart” wen in 2014, “Ballade vir ’n Enkeling” in 2015 en “Vir die Voëls” in 2017 onderskeidelik, die Huisgenoot Tempo toekenning vir gewildste rolprent van die jaar. In 2017 wen “Vaselinetjie” die prys vir beste rolprent by die kykNET Silwerskermfees, en “Vir die Voëls” wen beste internasionale rolprent by die Edmonton Filmfees in Kanada.

Aan die begin van 2007 verteenwoordig Danie Suid-Afrika by die Rotterdam Lab, ’n inisiatief van die Rotterdamse Filmfees. Hy word ook gekies om Suid-Afrika by die Berlin Talent Campus te verteenwoordig. Die program word tydens die Berlynse Filmfees aangebied. Danie is ook ’n gegradueerde van die hoogs aangeskrewe Trans Atlantic Partnership – ’n ko-produksie-inisiatief tussen Europa, Kanada en die VSA.

Danie was betrokke by die vervaardiging en regie van meer as 100 advertensies en musiekvideo’s. Maatskappye en musikante waarvoor hy al gewerk het, sluit in Nike UK, Sony USA, Czar Belgium, Happiness Brussels en SAB, Karen Zoid, EMI, Mandoza, Tumie and the Volume en die jazz-legendes, Sipho Gumede en Pops Mohammed.

“Bakgat!” behaal in 2008 groot sukses by die loket en lei tot die vervaardiging van “Bakgat! 2”, en “Bakgat! 3” – die eerste Afrikaanse trilogie. “Superhelde”, “Ek Joke Net 1 en 2”, “Night Drive”, “Roepman”, “Hoofmeisie”, “Wolwedans in die Skemer”, “Verraaiers”, “Musiek vir die Agtergrond”, “Pad na jou Hart”, “Agent 2000”, “Hear Me Move”, “Jou Romeo”, “Sy Klink Soos Lente”, “Vaselinetjie”, “Vuil Wasgoed”, “Thys en Trix”, en die enorme lokettreffers, “Vir Altyd”, “Ballade vir ‘n Enkeling”, “Stroomop” en “Vir die Voëls” en “Fiela se Kind” volg.

“Vergeet My Nie” word plaaslik in 2020 vrygestel.

Danie verskuif stelselmatig sy fokus na plaaslike produksies wat internasionaal vrygestel kan word.